“Cliché was so bleek soos ’n spook, haar magie was opgeswel, sy kon nie meer loop of eet nie en sy het ernstige hardlywigheid gehad.
“’n Ma weet wanneer iets nie reg is nie. Die tekens was daar, maar ons het nie geweet wat dit beteken nie.
“Toe die dokter sê: ‘Mamma, jou kind het kanker’ het die skok ons getref.
“Ons kom van die rustige Citrusdal, maar oornag het ons lewe na Tygerberg-hospitaal verskuif.
“Vir nege maande het ons lewens om chemoterapie, naalde, hospitaalbeddens en gebede gedraai. Toe kom die groot nuus: Cliché het ’n beenmurgoorplanting nodig gehad. Maar ons het ’n nóg groter seën ontvang – ek was die perfekte pasmaat en kon haar skenker wees.
“In Februarie het ek op ’n operasietafel gelê en my stamselle aan my kind geskenk. Dit was die vreesaanjaendste, maar terselfdertyd die mooiste oomblik van my lewe. En in Maart het ons die woorde gehoor waarvoor ons so lank gebid het: ‘Die oorplanting was suksesvol’.
“Nou keer ons elke maand terug vir opvolgondersoeke om haar bloedtellings te monitor. Party dae voel ek sterk. Ander dae wil ek net op die vloer opkrul en huil. Maar dan kyk ek na haar – sy is die rede waarom ek nooit moed opgee nie. My stamselle vloei deur haar klein lyfie. Ek het twee keer aan haar lewe geskenk. Watter groter voorreg kan daar wees?
“Aan elke ma of pa wat ook hierdie diagnose ontvang het: Ek weet jou wêreld het pas in duie gestort. Huil. Skree. Wees bang. Maar onthou ook dit: Jy is sterker as wat jy dink. Jou kind is dapperder as wat jy dink.
“Ons reis is nog nie verby nie. Maar Cliché leef vandag. En solank sy asemhaal, het ek hoop.”