Dankie vir ‘geen meer naalde nie’

Indien jy ‘n Kersskenking gemaak het om by te dra tot die verskaffing van ‘n Broviac vir kinders wat kankerbehandeling ondergaan, het jy dalk, in die bedrywigheid van jou eie feesseisoen, daarvan vergeet.

 

Maar nou, aan die begin van ‘n nuwe jaar, is jou ‘geen meer naalde nie’ geskenk van goedhartigheid al reeds besig om ‘n verskil te maak – en dis ‘n goeie rede om ‘n opregte ‘dankie’ aan jou te sê.

Nie alleenlik is Cliché ‘n klein kankervegtertjie nie, met haar liefde vir dans is sy ook die TLC-saal se eie danskoningin.

Die vierjarige Cliché van Citrusdal, wat  teen leukemie veg, is een van die kinders wat tans baat vind by jou vrygewigheid.

 

Die goeie nuus dat Cliché kwalifiseer vir ‘n beenmurgoorplanting, met haar mamma as ‘n 50%-passing, het gesorg vir groot blydskap.  Te danke aan omgee vriende soos jy, kon ons vir haar toerus met ‘n Broviac kateter sagte lyn wat direkte binne-aarse toegang gee.

 

Vir ‘n vierjarige, wie se woordeskat bestaan uit woorde soos chemoterapie, spoellyn, tellings en bloedselle, was Cliché gou om haar dankbaarheid in ‘n paar eenvoudige woorde uit te druk: “Dankie vir geen meer naalde nie”.

 

Jou geskenk sal ook vir Cliché deurdra vir haar beenmurgstamselinfusie wat beplan is vir hierdie maand.

 

Die ‘dankie’ en die vreugde, is joune om te deel.

Facebook
Twitter
LinkedIn