Aan die einde van verlede jaar het ons ‘n moeilike, dog noodsaaklike besluit in die gesig gestaar – om hulpbronne, as gevolg van lae besetting by ons Richardsbaai Tehuis, oor te plaas na ander sentrums en sodoende te voorsien aan groeiende behoeftes in die KwaZulu-Natal gebied.
Durban en Pietermaritzburg is steeds die provinsie se belangrikste kankerbehandelingsentrums. Mkhuhla Tehuis in Durban is al vir baie lank ‘n ‘tuiste weg van die huis’ vir pasïente van afgeleë gebiede maar die stygende aanvraag is besig om sy kapasiteit te oorskry.
Daarom is ons opgewonde om ‘n nuwe Tehuis in Pietermaritzburg te open – om toegang uit te brei vir pasiënte van dwarsoor KZN, insluitend Richardsbaai, waar hulle ondersteuning kan ontvang naby hul behandeling.
‘n Geskikte eiendom in Pietermaritzburg is geïdentifiseer met opknappingswerk wat gedoen moet word.
Terwyl ons wag vir goedkeuring vir ons toestemmingsaansoek van die verskeie munisipale departemente, kan ons solank begin met nie-strukturele werk.
Sodra die opknappingswerk voltooi is, sal die nuwe Tehuis groter wees as die een in Richardsbaai. Dit sal beteken dat ons meer meubilering, toerusting, en items sal benodig om hierdie eiendom die veilige, gemaklike en verwelkomende ‘tuiste weg van die huis’ te maak wat dit behoort te wees.
Met jou volgehoue vrygewigheid, sal die nuwe Tehuis in Pietermaritzburg binnekort ‘n werklikheid wees.