As ’n ma wat haar eie kind aan kanker verloor het en nou as KANSA se TLC Pediatriese Onkologie-koördineerder en – bestuurder dien, kom Vera van Dalen daagliks met baie kinders wat met kanker leef, in aanraking.
Nicus Lodge, wat ter nagedagtenis aan haar seun gestig is, het ontstaan uit Vera se diep begeerte om te verseker dat geen gesin tydens hul kind se kritieke behandeling van mekaar geskei hoef te wees nie.
In haar daaglikse omgang met hierdie jong vegters is daar sommige kinders wat vir Vera meer uitstaan. Wandile is een van hulle.
Met die herdenking van sewe jaar se heen-enweer reis vir behandeling het Wandile vir Vera ’n diep roerende brief en ’n potloodskets van haarself gegee.
Vera beskryf Wandile só:“‘n Kind wat nie gedefinieer word deur dit wat van haar weggeneem is nie, maar deur dit wat oorgebly het – ’n onwrikbare gees, buitengewone moed en ’n vasberadenheid wat weier om te swig. Sy pak elke dag met oorgawe aan en kyk die lewe reguit in die oë met ’n dapperheid wat almal om haar inspireer. Sy dra die letsels van haar stryd met stille trots en kyk sonder vrees vorentoe.
“Wandile het operasies, behandelings en die verlies van ’n oog deurstaan. Die leë oogkas vertel ’n deel van haar verhaal. Vandag is sy nie net ’n oorwinnaar nie – sy is ’n lig, ’n vegter en ’n herinnering dat ware krag nie aan volmaaktheid gemeet word nie, maar aan’ volharding.
“Ek staan steeds in verwondering oor alles wat ek by hierdie kinders bly leer.”