
Elke skenking wat jy aan KANSA maak is nie slegs ’n koue en onpersoonlike finansiële transaksie nie. Dis ’n skenking wat die lewe van iemand wat met kanker leef, aanraak. Dan word dit baie persoonlik. En terwyl jy moontlik nooit een van daardie persone sal ontmoet nie, kan ons hulle stories met jou deel, en dit sal jou goedhartigheid vir jou meer ´n werklikheid maak.
Ons hier by KANSA is wel die hande wat help, maar ons vermoë om dit te doen word gedryf deur jou en jou skenkings. Dit maak al die woorde van dank en waardering wat volg ook op jou van toepassing.
Hier volg Ashleigh se storie . . .
Met ’n geskiedenis van ’n toestand wat chroniese medikasie benodig, het Ashleigh se reis met kanker in 2021 begin.
Van tyd tot tyd siek gemaak deur maagpyne, asook hardlywigheid en swelsel van die maag, het hospitaal-besoeke en verskeie toetse nie ’n oorsaak daarvan vasgestel nie, totdat Ashleigh as ’n noodpasiënt na Charlotte Maxeke Hospitaal gehaas is. Chirurgie het die enorme gewas as kolon-kanker, fase 2, geopenbaar.
Ashleigh was verpletter. Onmiddellike chemotherapie is voorgestel, maar met afdelings van die hospitaal (insluitende die onkologie-eenheid) wat deur ´n vuur beskadig is, het Ashleigh en sommige ander pasiënte nie geweet wat om te doen, of waarheen om hulle te wend nie.
Ashleigh se suster in Australië het voorgestel dat sy vir KANSA kontak.
Ashleigh verklaar:
“Wat ’n verligting was dit toe KANSA se Voorspraak-hoof, Zodwa Sithole, my in kontak gebring het met Suster Tersia van die Chemo-Kliniek, en ek verwys is na Baragwanath Hospitaal vir chemo en verdere opvolg-ondersoeke.
“Al is ek nou drie-en-’n-half jare in remissie, ontvang ek steeds hulp van hulle, en bly
ek ewig dankbaar aan KANSA wat die tyd afgestaan het om my by te staan op my
reis as ’n kanker-oorwinnaar. Mag God almal seën wat vir my daar was.”
´n Hartseer kleindogter spreek haar dankbaarheid uit
“Vir meer as agt jaar het KANSA die pad met my oorlede ouma, Hantie Robinson, geloop in haar stryd teen kanker.
“Vanaf volle praktiese bystand ná my ouma se eerste diagnose, tot die kanker op fase 4 weer toegeslaan het, het sy bystand ontvang van KANSA Wes-Rand.
“Die Staatshospitaal kon nie veel hulp verleen nie, en dit was KANSA Wes-Rand se Monica en Isabel wat ons bygestaan het gedurende die mees traumatiese en hartverskeurende tyd van ons lewens.
“Immer slegs ’n foon-oproep en ’n ent se ry ver, ongeag die tyd van die dag of nag, was hulle by my ouma toe ons nie aan haar sy kon wees nie.
“Hierdie twee wonderlike mense het ’n kritieke rol gespeel in die daarstelling van ´n veilige hawe waar ons, as ´n familie, versorg en geliefd gevoel het. Toetsuitslae is uiteengesit sodat ons almal dit kon verstaan. Hulle tuisversorging, berading, en veel meer, was ver bo en meer as enige verwagting.
“Om iemand te verloor, is nooit maklik nie, veral om te aanskou hoe hulle besig is om vlak voor jou oë die stryd te verloor. En toe die einde kom, het die omgee voortgegaan vir ons wat agtergebly het.
“KANSA was die lig aan die einde van die tonnel tydens die tye van ons ergste worsteling. Ons is vir ewig dankbaar.”
(Ashley Olson Alberts – kleindogter van wyle en geliefde Hantie Robinson.)