Onder die leiding van die Union of International Cancer Control (Unie vir Internasionale Kankerbeheer) is die tema vir die nuwe wêreldwye veldtog vir 2025-2027 ‘United by Unique’ (Verenig deur Uniekheid).
Hierdie veldtog bepleit ’n fundamentele skuif na ’n mens-gesentreerde benadering m.b.t. kanker-sorg en -gesondheidstelsels wêreldwyd.
Dit erken dat elke ondervinding met kanker uniek is, en dat elke persoon unieke behoeftes en perspektiewe het, asook ’n storie om te vertel.
Nietemin is persone wat deur kanker geraak word, verenig in ’n gedeelde ambisie om toe te sien dat regerings beleidsrigtings implementeer wat kanker-voorkoming verbeter, gesondheidstelsels toepas wat kanker-pasiënte effektief behandel, en waarvan die uitkomste sal wees dat meer mense hul kanker oorwin en langer en gesonder lewens kan lei.
Ons HUB, Elize Joubert, sê die volgende:
“In Suid-Afrika, met ons sowat 60 miljoen mense, word verwag dat die voorkoms van kanker teen 2030 sal verdubbel. Die projeksie is dat daar teen daardie tyd 220 000 nuwe gevalle sal bestaan. Dis ’n gevolg van o.a. verhogings in die ouderdom-spesifieke voorvalle van kanker, sowel as die groei en veroudering van die Suid-Afrikaanse bevolking.

“Ten einde kanker-sorg in Suid-Afrika te verbeter, moet gesondheidsversorgers sensitief wees vir pasiënte se persepsies, en mense inlig omtrent kanker en die behandeling daarvan. ´n Mens-gesentreerde benadering lei tot verbeterde pasiënte-welstand, hoër sorg-kwaliteit en groter vertroue in gesondheidsversorgers. Dit verhoog tevredenheid onder pasiënte en families, terwyl gesondheidsgelykheid en die algehele doeltreffendheid van gesondheidstelsels daardeur verbeter word.”
In sommige kulture is kanker steeds ’n taboe-onderwerp, en universeel is die verwysing daarna vir baie van ons ongemaklik. Tog lei ´n ope gesprek oor kanker tot verhoogde bewustheid, verbeterde uitkomste, en kan dit uiteindelik lewens red.
Indien jy vra, ‘Wat kan ek doen?´, jy kan ons webtuiste besoek en deelneem aan Wêreld Kankerdag KANSA Aktiwiteite wat deurlopend plaasvind tot die einde van Maart. En op welke wyse jy met kanker betrokke was of nog steeds is, kan jy jou verhaal deel – op skrif, deur middel van kuns, of ’n video. Jy kan ook jou verhaal op ons webtuiste deel by die volgende adres: https://www.worldcancerday.org/share-your-story
Dit sal wonderlik wees om te sien dat vele Suid-Afrikaanse stories op hierdie wêreldwye platform vertoon word.
Kanker kan enigeen se wêreld op sy kop keer– maar KANSA gee om.